The Herberg started a Volunteer Project during 2001 and we have already gained a number of Herberg friends in this manner. These persons render a variety of services which include e.g. assistance with home work, sponsoring children who have special talents, sharing in their birthdays, transport and recreational activities. Do please become involved and touch the heart of a child.
Daar is altyd 'n behoefte aan sportsakke vir ons kinders. Adrenalin Outdoors het in samewerking met Specsavers vir elke kind 'n sportsak geskenk. Adrenalin Outdoors het ook 'n groep seuns en dogters geborg vir die Struisbaai Hengelkompetisie. Dit was vir hierdie groepie die eerste keer wat hulle aan so kompetisie kon deelneem en 'n ervaring wat hulle nie sommer gou sal vergeet nie. Vissermanstories word sedertdien graag vertel.
Wat 'n ONGELOOFLIKE groep mense. Hierdie groep het ons kinders besoek op 7 November 2009. Daar is lekker saamgesing. 'n Poppekas is ook aangebied. Daar is uitgereik na ons kinders op geestelike vlak en elke kind het 'n geskenkpakkie ontvang. Een van ons seuntjies het na die tyd laat weet "Tannie dit wat die lekkerste dag nog ooit!" Ons kon nie anders as om raak te sien hoe Jesus se liefde straal uit hierdie groep mense nie.
Dankie aan elke individue en gemeente wat uitstappies gereel of moontlik gemaak het vir ons kinders deur die jaar. Ons kinders besoek plekke en ontmoet mense wat andersins nie moontlik sou wees nie. Die impak op hul lewens speel 'n positiewe rol in die ontwikkeling van hierdie kinders. Lees meer hieroor in ons nuusbrief wat afgelaai kan word van ons tuisblad.
Sjoe, watter verrassing was die heerlike daguitstappie wat geborg was deur verskeie Lions-takke in die streek nie vir ons kinders nie! Die funksie is by Silwerstrand gehou. Daar was verskeie springkastele en waterwurms waarop die kinders kon baljaar. Die kinders is bederf met braaivleis en slaaie en kon heeldag na hartelus peusel aan springmielies, vrugte en spookasem.
NGK-Murray is een van die gemeenstes wat betrokke is by die kinders van die kinderhuis. Die jeug van hierdie gemeente wou graag 'n projek aanpak wat tot voordeel van al die kinders sal wees. Daar was lank gewik en weeg oor watter behoefte aangespreek kon word. Daar is jaarliks 'n groot behoefte aan skooltasse wat 'n groot uitgawe is. Hierdie groepie mense het genoeg fondse gewerf om vir elke kind 'n skooltas te skenk.
Vir 'n geruime tyd al, was daar 'n behoefte aan 'n groter klerestoor, waarin die klere geberg kan word tot uitreiking daarvan, aangesien die pakruimte van die vorige stoor nie meer voldoende was nie. Hiermee was die DG Murray Trust die kinderhuis behulpsaam deur die nodige fondse te voorsien vir die verbouing van 'n bestaande ruimte. Ons nuwe klerestoor is heelwat groter en voldoen aan die behoeftes vir die stoor van klere en skoene. Indien u ons behulpsaam kan wees met die skenk van hierdie items, nuut of tweedehands, sal dit baie waardeer word.
Die PPK-gemeente van Grabouw het die kinders met 'n besoek verras. Elke kind het 'n pakkie lekkers en koek ontvang, benewens R50-00 vir sy/haar verjaardag. Hierdie klein groepie individue het weer eens bewys dat groot getalle nie noodwendig die grootste impak het nie.
In 'n nie-winsgewende organisasie waar hulpbronne skaars is, vorm vrywilligers 'n belangrike skakel om
die uiteindelike doel van die organisasie te bereik. Vrywilligers bied aan die kinderhuiskinders die
geleentheid om op verskeie wyses die grense van hul wêreld te verbreed. Ons maak sedert 2003 reeds
van die dienste van Duitse vrywilligers gebruik, maar sou graag op plaaslike vlak ook die gawes van
potensiële vrywilligers wou ontgin. Daar bestaan tans 'n groot behoefte aan persone wat ons kleiner
kinders met tuiswerk tydens studietye kan help, die ry van ritte en om per geleentheid die kinderversorgers
af te los. Ons doen veral op ons plaaslike gemeenskappe, nl. Robertson, McGregor, Bonnievale, Montagu en
Ashton 'n beroep om ons in dié verband te help. Slegs 'n uur per week, kan 'n verskil in iemand se
lewe maak.
Indien u bereid is om ons behulpsaam te wees, kontak asb. vir mev. L. Abrahams: Tel. 023 626 3140.
Gansbaai-gemeente het die dogters van Huis E genooi om te kom kuier en hulle heerlik bederf. Sou hulle gevra word na wat Gansbaai lekker maak, sou hulle antwoord: "Oom Lukas en tannie Stienie Geldenhuys en al hul helpers, oom Wilfred se boot, die swemmery en kos vir Afrika." Die dogters kon nie uitgepraat raak oor die naweek nie, hoewel 'n paar aanvanklike "bangbroeke", die bootrit uiteindelik baie geniet het. Geeneen het seesiek geraak nie.
Die dames van Gansbaai het verlang en sommer gou weer vir die dogters met koek kom bederf. Mnr. Dries van Heerden het 'n skildery wat hy geskilder het na die dogters se besoek, kom oorhandig. Dit het 'n ereplek in hul huis gekry en nou kan hulle elke dag daarna kyk en onthou hoe aangenaam hul uitstappie was.
Huis G het ook 'n heerlike dag op een van die appelplase in Villiersdorp geniet. Hulle is heerlik deur Johanna se span vrywilligers bederf. Die kinders kon die vars plaaslug geniet en het elkeen 'n verrassingspakkie gekry. Daar is heerlik geswem en gebraai.
Worcester-Audenberg het die seuns van Huis C op 'n uitstappie by Viljoensdrift getrakteer. Die seuns is op 'n bootrit geneem, waarna hulle heerlik piekniek gehou het. Hulle het hulle verlustig in die ryke voëllewe wat langs die rivier te sien is.
Die behoeftes van kinders word gereeld, op versoek, aan gemeentes en individue deurgegee. Een so 'n behoefte, was sportsakke vir die seuns van Huis D. George-Suid se gemeente het hierdie behoefte aangespreek en die seuns se harte baie bly gemaak deur vir elkeen 'n sak te skenk.
Die NGK-Swellendam is baie betrokke by die kleuters van Die Herberg Kinderhuis. In die somer is dit heerlik om per geleentheid buite te eet, maar die nodige sitplek het ontbreek. Hierdie gemeente het die behoefte raakgesien en sommer gou het die kleuters die heerlike tuinbankies ontvang.
'n Selgroep van NGK-Kenridge in Bellville onder leiding van mnr. D. Britz, het 'n dag saam met die kinders kom deurbring. Daar is sokker en krieket met die seuns gespeel en die dogters se gesigte is geverf. Die besoek is met 'n heerlike worsbraai afgesluit. Hierdie besoek was weer 'n bewys van hoe belangrik die individuele aandag wat ons kinders ontvang, vir hulle is.
"Trap Der Jeugd" het 'n hele oggend saam met die kinders deurgebring waartydens daar heerlik gespeel is.
Die ATKV (Worcester-tak) het vir die kinders kom kuier. Die kinders moes die lede met 'n konsert vermaak.
Die Hexrivier Opvoedkundige Sentrum het die kinderhuis besoek. Hulle het vir die kinders heelwat klere en benodighede gebring. Daar is heerlik gesmul aan druiwe wat een van die "pappas" van De Doorns vir die kinderhuis geskenk het.
"The Lazarus Generation" het 'n musiek- en toneelopvoering vir die kinders kom hou.
"KZD Driving" het benodighede vir die kinders gebring.
Die "Think Bike" motorfietsgroep het 'n byeenkoms gereël ten bate van Die Herberg Kinderhuis. Daar is toiletware vir die kinders ingesamel. Daar was ook tyd om met die kinders te speel en hulle te leer ken.
Die Herberg Kinderhuis het op 16 Oktober 'n geleentheid aangebied waartydens die donateurs vir al hul bydraes bedank is. Die groot getal donateurs wat die funksie bygewoon het, het beindruk. Die aand was vol verrassings. Elke donateur het 'n sjokolade gekry wat geskenk is deur "House of Chocolates". Die blomme wat deur "Flowers @ work" van Robertson gedoen is en die versiering van die saal, was uit 'n ander wêreld. Ons was baie bevoorreg om na dr. Braam Hanekom, wat as spreker opgetree het, te kon luister. Die grootste hoogtepunt van die aand was egter Carike Keuzenkamp wat gratis as gaskunstenaar opgetree het.
Baie dankie aan Robertson Round Table vir die nuwe badkamer van Huis D. Die seuns kon nie wag om die stort in te wy nie.
Mnr. Andries de Jong (en twee broers) was vanaf 1964 tot 1975 'n inwoner van die eertydse Ou Herberg kinderhuis. Hy glo dat die sukses wat hy behaal het, te danke is aan die harde leerskool waarin hy was. Mnr. De Jong wou graag iets aan die gemeenskap teruggee. Hy het vir die kinders 'n braai gehou, waar daar lekker saam gekuier en met die kinders kennis gemaak is. Ons nooi graag oud-inwoners wat betrokke wil raak uit om met ons te kontak te maak. Mnr. Louis Nel is ook 'n individu wat 'n dag afgestaan het om vir die kinders te kom braai.
Ons kinders wat verjaar word maandeliks uitgeneem vir 'n heerlike "hamburger en chips" wat deur Robertson Lions geborg word. Lions van die streek, het gedurende November saamgespan en die kinders met 'n uitstappie na Vrolikheid getrakteer waartydens daar heerlik gebraai en gekuier is. Die kinders word op hierdie dag wat 'n jaarlikse instelling is, heerlik bederf. Daar word altyd baie na hierdie funksie uitgesien. Swellendam Lions het as een van hul projekte, die kleuters se speelapparaat vervang. Daar kan nou na hartelus geklim en geklouter word.
Die Gr. 10-kategeseklas van Caledon-Wes-gemeente het as uitreikingsaksie die kleuters kom besoek. Elke kleuter het 'n geskenkpakkie ontvang, terwyl daar heerlik saamgekuier is.
"Trap der Jeugd" het hul jaarlikse besoek aan die Herberg Kinderhuis gebring. Hierdie groep studente ry fiets met die doel om fondse vir instansies in te samel. Die gees onder dié groep studente is aansteeklik en daar word altyd heerlik saamgesing en speletjies gespeel.
"Think Bike" 'n motorfietsgroep, het die kinderhuis besoek en noodsaaklikhede soos klere, toiletware en voedselvoorrade gebring. Die lede van die klub het die geleentheid gebruik om met die kinders te skakel en nader kennis te maak.
Soos gewoonlik het Susan van Rooyen en vriende van SARS gesorg dat elke kind 'n geskenk het, wat gedurende kersfees huis toe geneem kon word. Hulle het soos gewoonlik getrou op ons versoek, nl. om eerder op noodsaaklikhede te konsentreer, gereageer. Die meerderheid kinders het klere ontvang, waaroor daar groot opgewondenheid geheers het. Mnr. Edwin Etsebeth en vriende van Worcester het die ete vir die funksie voorsien.

A program of Badisa. A joint ministry of the DR Church (Western and Southern Cape) and URCSA ( Cape ).
A Registered Non-Profit seeking Organization (Registration Number: 011-891)